HUISKOPERS BLY SUKKEL MET FINANSIES

PUBLISHED 6 FEB 2012   

 

Johannesburg. – Voornemende huiskopers sukkel steeds om verbandlenings te kry, blyk uit die huisprysindeks van die verbandtussenganger ooba wat gister bekend gemaak is.

Volgens die oobarometer was eerste aansoeke om verband­lenings wat deur finansiële instellings afgekeur is, verlede maand 6,2% meer as ’n jaar tevore.

Die aantal aansoeke wat deur die eerste instelling afgekeur is, maar deur ’n tweede goedgekeur is, het in die tydperk met 6,9% gedaal.

Tussen Desember 2010 en verlede maand het die koers van goedgekeurde huislenings met 8% gedaal.

Mnr. Saul Geffen, uitvoerende hoof van ooba, sê die aantal verbandlenings wat goedgekeur word, is beïnvloed deur die verandering in die tipe aansoeke asook die laer goedkeuringskoerse wat gewoonlik in Desember voorkom weens die groot aantal vakansiedae.

Uit ander aanwysers blyk dit dat die gemiddelde bedrag van verbandlenings wat toegestaan word, in die jaar tot einde Desember met 3,6% toegeneem het.

Die gemiddelde bedrag van verbandlenings toegestaan was in Desember R722 529 vergeleke met R697 572 ’n jaar tevore.

Die gemiddelde prys wat eerstehuiskopers betaal het, was R656 230, wat 14% meer is as in Desember 2010.

Dit blyk ook uit die oobaro­meter dat kopers ’n groter bedrag aan deposito’s betaal as ’n jaar gelede.

Die gemiddelde deposito as persentasie van die koopprys wat huiskopers betaal het, het met 14,1% tot R148 035 gestyg. Dit verteenwoordig 17% van die koopprys vergeleke met 14,9% in Desember 2010 en 13,8% in November verlede jaar.
- Artikel geneem uit Beeld.co.za - Adri van Zyl